Tuesday, November 23, 2010

Wat gebeur wanneer ek daar aankom?


Die aankoms by die kampterrein is vir een tot half twee - 13:00 tot 13:30

Daar aangekom sal jy sien die ruimte is redelik beperk - 'n eiland in 'n see van doringbome. Soek maar 'n skadu plek om jou motor te laat staan. Dit kan warm raak die tyd van die jaar wanneer ons roei.

Jy behoort van die ander mense al daar te kry. Bucket is die organiseerder en sy seun Albertus gewoontlik die toerleier. As jy gekies het om by die kampterrein te betaal, gee maar eers die geld vir my. Bucket wil al die geld saam ontvang. Daar gaan ook 'n lys sirkuleer waarop jy jou naam moet skryf. Hulle wil net seker maak dat dieselfde hoeveelheid mense die roeiery eindig as wat begin het.

Bucket se bakkies behoort ook dan al gereed te staan. Haal die items uit wat jy op die kanoe wil neem - bv jou hoed, sonbrandolie, koeldrank, ens. Moenie glas op die rivier neem nie. Dit breek net wanneer jou kanoe omval en wag vir die volgende ou om daarin te trap. Die res van jou goed kan in die motor bly, want dit is die plek waar ons gaan oorslaap.

Bucket neem dan vir ons met die bakkies na die punt waar die roeiery begin. Ons roei dan terug waar die motors staan. Twee persone roei op ‘n kanoe – ek het my vrou nou al mooi geleer…. Op elke kanoe is daar twee emmers waarin goedere gesit kan word. Vir die Saterdag voorsien Bucket ys om die koeldranke koud te hou.

Ons roei omtrent vir 3 ure en is dan so 5 uur se kant terug by die kampterrein. Dan volg die droogmaak, bedmaak en gesels om die kampvuur. Dit is wanneer Albertus sy lekker steak braai!

Daar word matrasse voorsien om op te slaap, maar dit is al. Die idee is dat jy 'n opelug slaap ervaring ondervind. Indien jy wil weet hoe dit is, sien my blogs http://breederivier.blogspot.com/2010/11/april-2008-die-breede-te-na-aan-die.html en http://breederivier.blogspot.com/2010/11/feb-2008-die-eerste-keer-op-die-breede.html. Dit behoort jou 'n idee te gee of jy 'n tent moet saam vat of nie.

Die Sondag oggend begin ons so 9 uur se kant weer te roei - dit na 'n heerlike ontbyt! So halfpad deur die roeiery is waar die Nappy Run in kom :). Ons maak klaar by die laagwaterbrug waarna Bucket ons met 'n stofpad op die bakkies terugneem. By 12:00 Sondagmiddag se kant is ons weer terug by ons motors!

No comments:

Post a Comment