Monday, November 22, 2010

April 2008 - Die Breede te na aan die winter.

Satedag oggend die Mosbol kyk weer Noord. Nog ‘n roei op die Breederivier. Hierdie slag ry Heike – my afgepers dat dit die enigste kuur vir haar naarheid is. Wel, laat haar eerder ry as wat sy die Mosbol oneer aandoen…
By die kampterrein aangekom wag die ander al vir ons. Een of ander rede was ons laaste. Gelukkig het Andre nie sy kampgeld vir drank geld gebruik nie en ek kon Bucket darem betaal. Ek moet die man eer gee om so ‘n versoeking te kon weerstaan. Ek moet erken dat ek eers die geld getel het, voordat ek dit vir Bucket gegee het….
Met die kanoes in die water het die roeiery begin. Ses paartjies met die vrouens voor in – iemand moes die roeiery doen. By die eerste stop het ‘n paar van ons die water in geduik, maar die res het hoog en droog op die wal gesit en mekaar se chips gedeel. Kon net sowel by die huis gebly het.
By die keerwal waar die watervalletjie is, was die volgende stop. Dit is die een waar jy onder gaan sit en die water stroom net bo-oor jou – eindelik baie lekker. My demo was nie baie suksesvol nie, want toe ek onder die water verdwyn, raak Heike heel vrees bevange, want sy het nie gesien ek doen dit nie. As ek nie weer uitgekom het nie, sou sy seker al die rivier leeg geskep het  – kan maar nie weg kom nie…
Ek moet sê hierdie slag het ek die stroom versnellings beter gevat as laas. Ek het gesien dat Abrie vir Susan gewys het hoe ons dit laas gedoen het. Ek het dit maar nie met Heike gewaag nie. Net-nou word sy weer naar en wil die kanoe ook bestuur…
Die eerste omval was Willie en Magdeleen – ha ha. Magdeleen, die enigse wat nie kon swem nie, moes uit die kanoe spring om die skade te verminder – gelukkig was die water vlak. Maar dit was ‘n wettig omval. Die takke was regtig in die kanoe se pad…
Die onwetting omval het met Willem en Alida gebeur – he he. En dit is onwettig omdat Andre ‘n vinger in die pie – ek bedoel kanoe – gehad het. Hier was geen takke nie. Net ‘n stroom versnelling wat elke kanoe alleen moes neem. Wel, ek glo dat dit Willem en Alida se plan was, maar nie Andre s’n nie. Alhoewel ek nie die stryd aanskou het nie, was Licia se onbeheerse gegiggel toe hulle by ons aankom, genoeg bewys dat vuilspel betrokke was. Ek verstaan Willem se fotos is nog steeds nat is omdat Andre droog gemaak het (die lyntjie van Abrie ge-erf ;)  )
Die aand se kamp was weer vol pret en stories. En natuurlike Albertus se T-Bone steak was bobaas. Gelukkig kon Heike hare nie klaar maak nie… J Na ete het Heike gou bed toe getrek – die een onder die sterre hemel. Licia en Alida het hulle mans skaamteloos gedryg totdat die vir hulle ‘n tent opgeslaan het….
Die wind was nogal ombeskof en hier by 4 uur in die oggend was ek wakker… met ‘n groot p... ek bedoel nood. Gelukkig was dit donkermaan so ek hoef nie ‘n boom te gekry het nie – kan mos nie te na aan ‘n karoodoring staan nie. Dus toe dat ek my goed vat en in die kar gaan slaap. Heike het my kom wakker maak met koffie… Lekker!
Sondag oggend het dit gevoel of al die ysbere van die Noordpool in Worcester vakansie hou. Dit is bewolk en die wind byt so aan die lyf. Na Albertus se heerlike ontbyt, is daar besluit dat dit nie die moeite werd gaan wees om verder te roei. Die mans het toe maar die koppie gaan uitklim om die sin van avontuur te behou… en ook Ettiene se OBS in te wei.
Die pad terug was triestig, maar ek het ‘n lekker middagslapie by die huis ingehaal…

No comments:

Post a Comment