Friday, February 10, 2012

Wat om saam te neem.

Wat om saam te neem:
1.       Onthou eie drinkgoed – vir die kanoe en die kampvuur. Probeer glas op die water vermy.
2.       Bring eie drinkding – beker om uit te drink
3.    Chips/Lekkers om aan te peusel tydens die roeiery
4.       Tabbart – Baie belangrik vir die muskiete
5.       Slaapsak en/of 'n tent. Kan in die opelug slaap as jy wil.
6.       Hoed vir die van ons wat die son maklik by kom
7.       Sonbrandolie vir dieselfde rede as bo-genoem.
8.       Droë klere vir wanneer die roei klaar is – aand se oorslaap en vir die terug ry huistoe.
9.       Trek skoen aan waarmee jy kan roei. Daar is ‘n plek waar ons moet uitklim. Droe skoene vir die kampvuur.
10. En natuurlik vir jouself….

Tuesday, February 15, 2011

Feb 2011 - Terug op die Breede

Net na 12 uur, Saterdagmiddag. Die Mosbol glip deur die tolhekke by die Hugenote tonnel. Dit is nog omtrent ‘n uur se ry vir my en Heike - oorgenoeg tyd. Net ander kant Rawsonville, begin my selfoon te lui – die ingangshek is nog gesluit. Dit was weer tyd vir ons jaarlikse roei op die Breederivier!

Vir die afgelope 4 jaar - rondom Valentynsdag – trek ons saam by Bucket se kampterrein langs die Breederivier. Dit is ‘n 14 km roei wat strek oor twee halwe dae. Die eerste 7 km begin die Saterdagmiddag 2 uur en die laaste 7 km eindig Sondagmiddag 12 uur.

Vanjaar was die meeste mense redelik vroeg al by die kampterrein. Selfs Gustav en Margaretha het hiervan seker gemaak. Ten spyte van hierdie gees van paraatheid, maak Abrie en Susan nog steeds ten volle gebruik van die beskikbare tyd. Die gewag het ontaard in ‘n bal gooiery. ‘n Klein rugbyballetjie begin die rondte doen.  Jan en Etienne wys hoe dit gedoen word met hulle lang gooie wat strek oor die lengte van die kampterrein. Egter het dit nie lank geneem vir die doringbome om hul merk op die bal te laat nie. Met Abrie en Susan se aankoms, was dit ‘n pap rugbyballetjie wat die rondte gedoen het.

By die besproeiingspomp, wat ‘n effe van ‘n baaitjie in die rivier maak, was die kanoe’s te water gelaat.  ‘n Klein mate van roei vaardigheid was nodig om die kanoe uit die baaitjie in die rivier te kry. Of tewel, die vermoë om met mekaar te kan kommunikeer.  Gordon en Frans het eers die walle getoets met Frans se “druk” en “roei” instruksies. Wellus waar het hulle die rivier gevind en by die res van die groep aangesluit.

Die dag het al die einskappe van ‘n goeie Wes-Kaapse somer besit en die eerste swem kans was ‘n lafenis. Behalwe dat Johan in sy eie voorbarigheid my en Heike se kanoe omgekeer het, was die swem baie aangenaam. Die pap rugbybal het ook weer sy verskyning gemaak en deur die gesels en lag, het dit ‘n paar mense onverwags gevang. Een so ‘n geval was Frans wat ons ingelig het dat sy toilet gebruik onderbreek word. ‘n Opmerking wat ‘n redelike sterk stormloop na die kanoe’s veroorsaak het.

‘n Deurlopende tema vir die rit, was die wateroorloë. Twee strategie was voortdurend ontplooi -  die nat spat met die roeispaan en om die ander kanoe in die bosse in te dwing. Die grootste gevolg van enige aanval was die rimpel effek wat dit tot gevolg gehad het. Die vergeldingstogte van die onskuldige bystaanders was soms verwoed. Dit wil bleik dat ahoewel die aanvalle meestal deur die mans begin was, was dit die vrouens wat die vergeldingstogte aangevuur het. Na aan die einde van die rit kon Heike vir my opnoem wie ons nog nie terug gekry het nie.  

Dit was die Saterdagmiddag wat ons die stroomversnellings moes trotseer. Benaminge het gewissel van Wall of Death tot Lovers Lane - nie dat die Lane vriendelike was as die Wall nie. Alhoewel almal dit redelik veilig deur die stroomversnellings gemaak het, was dit Kobus en Sandra wat hulle kanoe by die Wall of Death omgekeer het. By Lovers Lane  was daar ‘n omgespoelde boom in die middel van die rivier. Die triek was om te besluit aan watter kant om verby te gaan – onthou soos ek aan die begin gese het, roei vereis ‘n sekere mate van kommuniksie…. Almal het dit gemaak, behalwe ek en Heike wat reg op die omgevalde boom se wortels afgepeil het. Die stroom was gelukkig sterk genoeg om ons met 'n kanoe-spring oor die boomwortels te loods. Dit was effens van 'n terleurstellend dat dit net Gustav en Margaretha was wat ons “kanoe-vaardigheid” aanskou het.

By ons bestemming aangekom, is die kanoe's teen die wal uitgetrek. Ons het eers met die laaste hitte van die dag in die water gaan hang. By die kampterrein was die nat klere vir droës veruil en stadig het ons om Ballie se vuur begin versamel. Soos die lig van die son minder geraak het, het die stories meer geraak. Terwyl sommig aktief deel geneem het in die gesprekke, het ander net agteroor gesit en die rustigheid van die aand geniet. Ballie se steak het op die regte tyd gekom  en saam met die groente kon hy die Naked Chef self gewees het.  Soos die bed ons nader geroep het, het die harde musiek van die roeiers aan die oorkant van die rivier, al hinderliker geword. Jan wou met ‘n mes in sy mond oorswem. Ek is nie seker wat hy wou doen nie, maar dit sou glo iets vreesliks gewees het…. Die beste sou eindelik gewees het om Johan met sy kitaar oor te stuur – passive resistance….



Die volgende oggend toe ons die kanoe’s in die water sit, was hulle kamp so stil soos die graf. Ek moet erken ons gesprekke was onnodig hard…

Sondag oggend was die Nappy-run dag. Die vaart soontoe het gepaard gegaan met die normale watergevegte en opmerkings. Net voor die Nappy-run het die rivier vernou met ruie plantegroei aan weerskante. Boomtakke het plek-plek oor die rivier gestrek om tonnels te  vorm waar deur ons moes dryf. Die rivier het ons een vir een geneem en saggies in sy kalmte vasgevang. Dit het dit het gevoel asof ek en Heike die enigste kanoe op die hele rivier gehad het. Die lig groen weerkaatsing van die sonstrale teen die blare en die sagte geklots van die water, het my en Heike vir ‘n oomblik toegevou in die volmaaktheid van die skepping.

Die Nappy-run het ons in ‘n totale en ander gemoed geplaas. Soos tieners met die Life Jackets oor ons boude, dryf ons, ingehaak bymekaar, in die vinnige vloeiende water van die rivier af. Die eerste poging was ‘n lang trein wat die laaste mense in die takke laat beland het. Die ander pogings was korter treine met verskeie innovasies - Willem en Etienne se innovasies. Dit het gewissel van pogings om die trein vinniger te laat gaan tot 360 grade rolle. Dit was veral Susan se onophoudelike gelag en giggel wat die gees van die oomblik die beste vasgevang het. Vir ‘n oomblik was ons weer kinders sonder sorge – soos die dae toe ons pa’s nog vir ons gesorg het.

Die rit het geëindig by die laagwater brug, waar die kanoe’s weer gelaai is. Nog ‘n rivier avontuur is verby en die tyd vir afskeid was daar. Wanneer ek terug kyk na die rivier, sien ek dit as ‘n string waaraan die pret van die twee dae soos krale geryg is. Nog ‘n perel aan die tyd-string van die lewe.


Friday, February 11, 2011

Roete deur Villiersdorp

Roete deur Rawsonville

Daar is ook 'n roete deur Rawsonville wat korter is as die pad Worcester om. Vir die wat eerder die roete wil volg, kan gebruik maak van die volgende padaanwysings. Daar is ook 'n kaart om dit visueel voor te stel.

Na die tonnel, net uit die pas, is daar 'n weegbrug aan die regterkant van die pad. Daar behoort ook 'n bord te wees wat Rawsonville aandui. Neem daardie afdraai. Jy sal dan op die ou N1 wees. Volg die pad tot weer by 'n Rawsonville afdraai aan die regterkant. Volg die pad tot in die dorp. In die drop is  daar 'n T-aansluiting. Draai na regs en volg die pad uit die dorp uit. Volg die aanwysings na Nekkies en Worcester.

Die pad na Nekkies loop om die dam wat jy nie eindelik kan sien nie. Dit eindig by groot toegangshekke, maar jy hoef nie daar in te gaan nie. By die toegangshekke is daar 'n afdraai na links wat oor 'n brug loop - volg dit.  Dit is die pad na Worcester. Soos jy Worcester ingaan, maar nog voor jy by die hoof dorp kom, sal die R43 afdraai op jou regtekant wees. Dit is by hierdie punt waar die pad Worcester-om en die pad Rawsonville-om, by mekaar uitkom. Draai regs in die R43 in en volg die aanwysings soos in die algmene/Worcester-om padbeskrywing.  Sien die Kaart hieronder vir visuele detail :)



Tuesday, November 23, 2010

Wat gebeur wanneer ek daar aankom?


Die aankoms by die kampterrein is vir een tot half twee - 13:00 tot 13:30

Daar aangekom sal jy sien die ruimte is redelik beperk - 'n eiland in 'n see van doringbome. Soek maar 'n skadu plek om jou motor te laat staan. Dit kan warm raak die tyd van die jaar wanneer ons roei.

Jy behoort van die ander mense al daar te kry. Bucket is die organiseerder en sy seun Albertus gewoontlik die toerleier. As jy gekies het om by die kampterrein te betaal, gee maar eers die geld vir my. Bucket wil al die geld saam ontvang. Daar gaan ook 'n lys sirkuleer waarop jy jou naam moet skryf. Hulle wil net seker maak dat dieselfde hoeveelheid mense die roeiery eindig as wat begin het.

Bucket se bakkies behoort ook dan al gereed te staan. Haal die items uit wat jy op die kanoe wil neem - bv jou hoed, sonbrandolie, koeldrank, ens. Moenie glas op die rivier neem nie. Dit breek net wanneer jou kanoe omval en wag vir die volgende ou om daarin te trap. Die res van jou goed kan in die motor bly, want dit is die plek waar ons gaan oorslaap.

Bucket neem dan vir ons met die bakkies na die punt waar die roeiery begin. Ons roei dan terug waar die motors staan. Twee persone roei op ‘n kanoe – ek het my vrou nou al mooi geleer…. Op elke kanoe is daar twee emmers waarin goedere gesit kan word. Vir die Saterdag voorsien Bucket ys om die koeldranke koud te hou.

Ons roei omtrent vir 3 ure en is dan so 5 uur se kant terug by die kampterrein. Dan volg die droogmaak, bedmaak en gesels om die kampvuur. Dit is wanneer Albertus sy lekker steak braai!

Daar word matrasse voorsien om op te slaap, maar dit is al. Die idee is dat jy 'n opelug slaap ervaring ondervind. Indien jy wil weet hoe dit is, sien my blogs http://breederivier.blogspot.com/2010/11/april-2008-die-breede-te-na-aan-die.html en http://breederivier.blogspot.com/2010/11/feb-2008-die-eerste-keer-op-die-breede.html. Dit behoort jou 'n idee te gee of jy 'n tent moet saam vat of nie.

Die Sondag oggend begin ons so 9 uur se kant weer te roei - dit na 'n heerlike ontbyt! So halfpad deur die roeiery is waar die Nappy Run in kom :). Ons maak klaar by die laagwaterbrug waarna Bucket ons met 'n stofpad op die bakkies terugneem. By 12:00 Sondagmiddag se kant is ons weer terug by ons motors!

Reelings om in ag te neem vir elke roei sessie!

Let asb op die volgende om seker te maak jy het 'n heerlike roei ervaring :)

Die organiseerde – Bucket – reël vir al die kos en dit wat met kos te doen het.  Daar is ‘n lekker stuk steak wat Albertus braai vir die Saterdagaand - iets om na uit te sien! Sondagoggend se ontbyt is iets wat jy op geen ander plek sal kry nie. Albertus is 'n bobaas kok!

Wanneer dit by die drinkgoed kom, is dit elke persoon se eie verantwoordelikheid - drank en ys is jou baba. Die eerste dag se roei gee Bucket ys vir die drinkgoed op die kanoes, so jou ys gaan meer vir die aandete wees - sorg maar dat jy 'n plek het waar dit minimum sal smelt. Alhoewel Bucket dit nie genoem het nie, maak maar 'n punt om nie glas op die rivier te neem nie. As dit breek en onder die water beland, kan dit dalk jou voet die volgende jaar sny :|

Die slaapplek is primitief. Alhoewel Bucket matrasse voorsien is die standaard 'n ope lug ervaring - sien my vorig blogs - Feb 2008 en April 2008 - om te weet hoe so 'n ervaring is... Ek vat maar my tweemantent saam. Dit het net daardie bietjie meer gerief wat verseker dat ek wel die aand sal slaap. Behalwe vir die matras is die slaapsak, kussing en teddybeer jou eie verantwoordelikheid - don't leave home without them!

NB: Muskiet middels! Die goed is in oorvloed en lewe glo net van elke naweek se roeiers.

Kamera sal ook help om die oomblike vas te vang. Noudat ek 'n profiel op photobucket geskep het, kan ons gerieflik deel in almal se meesterstukke :)

So om op te som - Wat om saam te neem:
1.       Onthou eie drinkgoed – die kanoe en vir die kampvuur.
2.       Bring eie drinkding – glas of beker of waaruit jy ook al wil drink
3.       Tabbart – Baie belangrik vir die muskiete
4.       Slaapsak en tent as verkies om nie oop te slaap nie.
5.       Hoed vir die van ons wat die son maklik by kom
6.       Sonbrandolie vir dieselfde rede as bo-genoem.
7.       Droë klere vir wanneer die roei klaar is – aand se oorslaap en vir die terug ry huistoe.
8.       Trek skoen aan waarmee jy kan roei. Daar is ‘n plek waar ons moet uitklim. Droe skoene vir die kampvuur.
9.       En natuurlik vir jouself….

Hoe om daar te kom!

Hierdie padverwysings aanvaar jy kom vanaf Kaapstad se rigting op die N1.

Volg die N1 deur die tonnel - of oor die berg as jy nie tol wil betaal nie... - tot by die eerste afdraai na Worcester toe - die R43. Wees maar versigtig met die spoed tussen die berg en Worcester - baie spoedkameras. Volg die pad Worcester in. Dit word later Rabie straat en nog later Trappes straat. Trappes straat loop gelukkig dood in Durban straat, anders so dit seker nog 'n naam gehad het. Draai regs in Durban straat en volg dit uit Worcester uit.

Net buite Worcester is daar 'n afdraai na links. Daar is SPCA huisie op jou regter hand by die afdraai - ek was al daarop gewys dat die huisie nie baie sigbaar is nie.... Gee 'n blinde 'n roeispaan. Die afdraai neem jou op die pad van Worcester na Villiersdorp. Indien jy reguit hou, gaan jy by Rawsonville uitkom - verkeerd. Ten spyte van al die straat naam veranderinge, is jy nog steeds op die R43 - die wonder van tegnologie, of is dit....

Vanaf die afdraai - of die SPCA huisie indien jy dit gesien het - is dit omtrent 10.5 Km tot by die afdraai na die kampterrein vir die roei. Op pad soontoe sal jy verby Aan-De-Doorns Kelder ry. Van die kelder af is dit nog omtrent 3.5 km.

Die afdraai na die kampterrein sit aan die linkerkant van die pad. Dit is net voor die brug oor die Breederivier - dus as jy oor die Breede ry, is jy te ver! Moenie die verwagting te hoog hou oor die toestand van die afdraai pad nie - nou gaan jy die bundu binne! Dit is ‘n tweespoor grond paadjie en die hek staan oop. Op die hek is ‘n bord wat sê “gesluit” – wat dit duidelik nie is nie. Volg die grond paadjie tot by die kampterrein. Daar mag nog 'n hek wees wat soms oop, soms toe is. Indien toe, maak asb oop voor dat jy verder ry.

Geniet dit :)

O ja, jy kan ook die roete op google maps volg: