Monday, November 22, 2010

Dit is tyd om reg te maak vir die 2011 Breede Roei!

2010 is op sy einde. Vader Kersfees het klaar al die onderhoud aan sy slee gedoen en die bokke is oorgewig van heel jaar in die stal staan - geen weidings in die Noordpool nie....

Ek het met Bucket bevestig dat die tweede naweek in Februarie - 12/13 Feb - reg is en wag vir ons! Die eerste kennisgewing is uit en ons is alreeds 7 paartjies (14 mense) wat gaan. So ver is die enigste nuwe paartjie Jan en Lena. Hulle weet nog nie watse pret vir hulle wag nie :)

Omdat die roeiery nou al 'n jaarlikse instelling geraak het, het ek besluit om 'n blog oop te maak waar ons die gebeur van die naweek kan vasvang. Ek sien dat met die eerste jaar se roeiery - toe het ek twee keer gegaan - was ek nog ywerig genoeg om dit neer te skryf. Ek het dit somaar op die blog gepubliseer sodat die wat dit nog nie gedoen het nie, 'n idee kan kry wat aangaan.

Nog 'n probleem wat ons het is die verspreiding van fotos na die roeiery. Laas het Henk baie goeie fotos geneem en vir almal gegee, maar Etienne se fotos het nie by die mense uitgekom nie. Vir volgende jaar se roei het ek die probleem opgelos :). Ek het 'n profiel op Photobucket oopgemaak waar al die fotos gepubliseer gaan word. Ek gaan solank begin om die vorige jare se fotos te publiseer om alles by mekaar te hou. Omdat die fotos meer plek gaan neem as wat so 'n webwerf verniet weggee, gaan dit gebeur dat ons sal moet betaal vir die spasie. Ek gee nie om dit te doen nie, maar as daar ander is wat ook donasies wil maak, is julle welkom.

Verder wil ek ook die Blog gebruik om almal se evaring van die roei op te publiseer. Ek gaan probeer om 'n opsomming te gee so goed as wat ek kan, maar ek is seker daar is mense wat dit beter as ek kan doen. So, ek nooi elke persoon wat so voel, uit om vir my 'n artikel te stuur wat ek op die blog kan sit.

Mense, ek sien uit na volgende jaar se roei. Dit is waarlik vir my een van die hoogtepunte in my jaar :)

No comments:

Post a Comment