Monday, November 22, 2010

Feb 2008 - Die eerste keer op die Breede!

Saterdagoggend. Die mosbol brul noord op die N1 – Worcester se kant toe. Ek en Abrie is gepak vir ‘n naweek. By Worcester se eerste afdraai draai ons in, ry deur die dorp tot op die R43 wat Villiersdorp toe loop. Ons is oppad Breederivier toe - ‘n naweek van roei!
 Hierdie idee het al reeds ‘n paar maande gelede begin. Ek het Bucket – die roei-organiseerder – se nommer gekry en ‘n naweek bespreek. Elke kanoe vat twee persone en my idee was om nog paartjies bymekaar te kry wat die avontuur saam met my en my vrou kan deel. Drie paarjies stem in. My vrou moes egter ontrek - studie verpligtinge - en Abrie moes instaan. Ek en Abrie het al ‘n paar staproetes saam gedoen, maar dit sal die eerste roei ervaring wees.
 By die kampterrein aangekom, begin die wag. Ek het seker gemaak dat ek vroeër opgedaag het vir ingeval sommige die pad “verloor”. Die eerste om op te daag is Dino en Willemien. Hulle word gevolg deur Johan en Lizelle, maar dit is toe waar dit eindig. Omtrent ‘n halfuur na die afgespreekte aankomstyd, bel Gustav en Margaretha – effens paniek in die stem hoorbaar – dat hulle nie die afdraai kon kry nie. Dit nadat Bucket sy bakkie in die pad getrek het waar niemand dit kon mis nie. Ek en Dino spring in sy kar en jaag in die rigting waar ons dink hulle verlore geraak het, maar niks nie. Einde ten laaste lui my selfoon - die agter osse het die kraal gekry. Die probleem was ‘n berekenings fout. Plaas van 3,5 km ander kant Aan-DeDoorns Kelder, het hulle 5,5 gery. Glad nie daar waar ek en Dino spoedrekords opgestel het nie.
 By die rivier aangekom kry elk twee persone ‘n kanoe. Albertus, ons gids, verduidelik vinnig hoe dinge werk. Dan sak ons kanoe-vir-kanoe die water in – my eerste roei ervaring…. O ja, Abrie se eerste een ook! Aan die begin gaan dit goed. Ons werk vinnig uit hoe om die kanoe deur die draaie te stuur. Dit was egter by die stroomversnellings waar die gebrek aan ondervinding ons weggegee het. Waar die ander ewe gemaklik om die draai kom met die krag van die versnellings, beland ons teen die oorkantste wal – onder deur die takke wat my amper uit die kanoe klap. Ek maak net oë toe, hou my roeispaan vas soos Albertus gesê het en lê so plat as moontlik in die kanoe. Later vind ek uit, die agterse roeier – ekke - eindelik die stuurder is. Hoe moes ek nou geweet het….
 Behalwe vir die trotsering van nog ‘n  paar takke was die dag ‘n fees. Deur harde ondervinding – of eerder sweephoue deur die gesig – het ek en Abrie uitgewerk hoe om die kanoe meer doeltreffend deur die stroomversnellings te kry. Met genoeg rus en swem kanse het niemand werklik moeg geraak nie. ‘n Voortdurende natspat oorlog het tussen kanoes onstaan. Die grootste rede waarom die oorlog ‘n redelike omvang aangeneem het, was dat die vergeldingstogte meer onskuldige roeiers getref as die oorspronklike teiken.
 By die oorslaap plek het Albertus gesorg vir aandete – ‘n T-Bone steak wat die bord vol lê het. Selfs die groente – wat gewoontlik net die bord versier – was lekker. Die kampvuur het weer aan elke een die kans gegee om stories te vertel. Almal het lekker saam gelag. Dit was net die belofte van reën wat my effens bekommerd bemaak het. Die ander het gesorg vir tente. Ek en Abrie wou van die oorspronklike geriewe gebruik - ‘n nag onder die ope sterre hemel. Egter was daar nie sterre nie…. Ons twee het opgeëindig met matrasse op die kombuis tafel onder ‘n skadunet. Gelukkig was daar ‘n los swartseil wat ons bo-oor kon trek. Alhoewel ons nie die sterrie kon sien nie, was die belewenis van ‘n ope naglug nog daar – fyn reëndruppels in die gesig….
 Die volgende dag het begin met ‘n bobaas ontbyt. Ons het die waarde van ons geld alleenlik terug gekry in die etes! Terug in die water het dit beter gegaan. Die hoogtepunt van die dag was die “Nappy-run”. Met ons “life jackets” om ons boude soos ‘n “nappy”, is ons in ‘n stroom af met die voete ingehaak onder die voorste ou se arms. Watter pret om so deur die stroom meë gesleep te word. Aan die einde moes jy net seker maak om gou genoeg uit die stroom te kom. Anders trek dit jou in die res van die rivier af. Dit was op die punt waar Abrie buite beheer verby ons gesleur is. Gelukkig na ‘n paar paniekerige pogings vind hy uit die water is maar kniediep.
 Die tog het kort daarna geeindig en ons is terug na ons voertuie. Nadat ons droog aangetrek het, is elkeen in sy eie rigting huis toe. Die Bosbol het flink suid gebrul deur Villiersdorp, Grabouw, Sir Lowry’s Pas tot by die huis. Wat ‘n lekker naweek!

No comments:

Post a Comment