Tuesday, February 15, 2011

Feb 2011 - Terug op die Breede

Net na 12 uur, Saterdagmiddag. Die Mosbol glip deur die tolhekke by die Hugenote tonnel. Dit is nog omtrent ‘n uur se ry vir my en Heike - oorgenoeg tyd. Net ander kant Rawsonville, begin my selfoon te lui – die ingangshek is nog gesluit. Dit was weer tyd vir ons jaarlikse roei op die Breederivier!

Vir die afgelope 4 jaar - rondom Valentynsdag – trek ons saam by Bucket se kampterrein langs die Breederivier. Dit is ‘n 14 km roei wat strek oor twee halwe dae. Die eerste 7 km begin die Saterdagmiddag 2 uur en die laaste 7 km eindig Sondagmiddag 12 uur.

Vanjaar was die meeste mense redelik vroeg al by die kampterrein. Selfs Gustav en Margaretha het hiervan seker gemaak. Ten spyte van hierdie gees van paraatheid, maak Abrie en Susan nog steeds ten volle gebruik van die beskikbare tyd. Die gewag het ontaard in ‘n bal gooiery. ‘n Klein rugbyballetjie begin die rondte doen.  Jan en Etienne wys hoe dit gedoen word met hulle lang gooie wat strek oor die lengte van die kampterrein. Egter het dit nie lank geneem vir die doringbome om hul merk op die bal te laat nie. Met Abrie en Susan se aankoms, was dit ‘n pap rugbyballetjie wat die rondte gedoen het.

By die besproeiingspomp, wat ‘n effe van ‘n baaitjie in die rivier maak, was die kanoe’s te water gelaat.  ‘n Klein mate van roei vaardigheid was nodig om die kanoe uit die baaitjie in die rivier te kry. Of tewel, die vermoë om met mekaar te kan kommunikeer.  Gordon en Frans het eers die walle getoets met Frans se “druk” en “roei” instruksies. Wellus waar het hulle die rivier gevind en by die res van die groep aangesluit.

Die dag het al die einskappe van ‘n goeie Wes-Kaapse somer besit en die eerste swem kans was ‘n lafenis. Behalwe dat Johan in sy eie voorbarigheid my en Heike se kanoe omgekeer het, was die swem baie aangenaam. Die pap rugbybal het ook weer sy verskyning gemaak en deur die gesels en lag, het dit ‘n paar mense onverwags gevang. Een so ‘n geval was Frans wat ons ingelig het dat sy toilet gebruik onderbreek word. ‘n Opmerking wat ‘n redelike sterk stormloop na die kanoe’s veroorsaak het.

‘n Deurlopende tema vir die rit, was die wateroorloë. Twee strategie was voortdurend ontplooi -  die nat spat met die roeispaan en om die ander kanoe in die bosse in te dwing. Die grootste gevolg van enige aanval was die rimpel effek wat dit tot gevolg gehad het. Die vergeldingstogte van die onskuldige bystaanders was soms verwoed. Dit wil bleik dat ahoewel die aanvalle meestal deur die mans begin was, was dit die vrouens wat die vergeldingstogte aangevuur het. Na aan die einde van die rit kon Heike vir my opnoem wie ons nog nie terug gekry het nie.  

Dit was die Saterdagmiddag wat ons die stroomversnellings moes trotseer. Benaminge het gewissel van Wall of Death tot Lovers Lane - nie dat die Lane vriendelike was as die Wall nie. Alhoewel almal dit redelik veilig deur die stroomversnellings gemaak het, was dit Kobus en Sandra wat hulle kanoe by die Wall of Death omgekeer het. By Lovers Lane  was daar ‘n omgespoelde boom in die middel van die rivier. Die triek was om te besluit aan watter kant om verby te gaan – onthou soos ek aan die begin gese het, roei vereis ‘n sekere mate van kommuniksie…. Almal het dit gemaak, behalwe ek en Heike wat reg op die omgevalde boom se wortels afgepeil het. Die stroom was gelukkig sterk genoeg om ons met 'n kanoe-spring oor die boomwortels te loods. Dit was effens van 'n terleurstellend dat dit net Gustav en Margaretha was wat ons “kanoe-vaardigheid” aanskou het.

By ons bestemming aangekom, is die kanoe's teen die wal uitgetrek. Ons het eers met die laaste hitte van die dag in die water gaan hang. By die kampterrein was die nat klere vir droës veruil en stadig het ons om Ballie se vuur begin versamel. Soos die lig van die son minder geraak het, het die stories meer geraak. Terwyl sommig aktief deel geneem het in die gesprekke, het ander net agteroor gesit en die rustigheid van die aand geniet. Ballie se steak het op die regte tyd gekom  en saam met die groente kon hy die Naked Chef self gewees het.  Soos die bed ons nader geroep het, het die harde musiek van die roeiers aan die oorkant van die rivier, al hinderliker geword. Jan wou met ‘n mes in sy mond oorswem. Ek is nie seker wat hy wou doen nie, maar dit sou glo iets vreesliks gewees het…. Die beste sou eindelik gewees het om Johan met sy kitaar oor te stuur – passive resistance….



Die volgende oggend toe ons die kanoe’s in die water sit, was hulle kamp so stil soos die graf. Ek moet erken ons gesprekke was onnodig hard…

Sondag oggend was die Nappy-run dag. Die vaart soontoe het gepaard gegaan met die normale watergevegte en opmerkings. Net voor die Nappy-run het die rivier vernou met ruie plantegroei aan weerskante. Boomtakke het plek-plek oor die rivier gestrek om tonnels te  vorm waar deur ons moes dryf. Die rivier het ons een vir een geneem en saggies in sy kalmte vasgevang. Dit het dit het gevoel asof ek en Heike die enigste kanoe op die hele rivier gehad het. Die lig groen weerkaatsing van die sonstrale teen die blare en die sagte geklots van die water, het my en Heike vir ‘n oomblik toegevou in die volmaaktheid van die skepping.

Die Nappy-run het ons in ‘n totale en ander gemoed geplaas. Soos tieners met die Life Jackets oor ons boude, dryf ons, ingehaak bymekaar, in die vinnige vloeiende water van die rivier af. Die eerste poging was ‘n lang trein wat die laaste mense in die takke laat beland het. Die ander pogings was korter treine met verskeie innovasies - Willem en Etienne se innovasies. Dit het gewissel van pogings om die trein vinniger te laat gaan tot 360 grade rolle. Dit was veral Susan se onophoudelike gelag en giggel wat die gees van die oomblik die beste vasgevang het. Vir ‘n oomblik was ons weer kinders sonder sorge – soos die dae toe ons pa’s nog vir ons gesorg het.

Die rit het geëindig by die laagwater brug, waar die kanoe’s weer gelaai is. Nog ‘n rivier avontuur is verby en die tyd vir afskeid was daar. Wanneer ek terug kyk na die rivier, sien ek dit as ‘n string waaraan die pret van die twee dae soos krale geryg is. Nog ‘n perel aan die tyd-string van die lewe.


No comments:

Post a Comment